31/12/2015
Hemelse Vader
Die jaar se asem is bykans op. 2015 is amper verby. Teen die spoed van een dag op ’n slag het 2015 voor ons oë verbygesnel.
Ons dank U, Here, dat U op wie weet hoeveel maniere gedurende die afgelope jaar in ons midde aanwesig was:
Toe dit donker was, het U u hemelse lig laat skyn.Toe slegte nuus in die omgewing was, het Jesus se Goeie Nuus opgedaag.Toe moed en hoop weggesyfer het in die sand, het die hoop wat U bring, in ’n paar harte bly brand.
Op wonderlike maniere het U u vingerafdrukke op ons lewens agtergelaat in 2015:
Toe ons gepleit het, het U op u eie maniere ons gebede verhoor.Toe ons brood by die hemel gaan bedel het, was Christus ons nogmaals genadig en het Hy van voor af met ons begin.Toe ons dors was, was Lewende Water altyd in die nabyheid.
O Here, U was en is steeds net een gebed ver.
En nou wink 2016. Ons weet nie wat alles vir ons voorlê nie, maar ons weet U sal in die nuwe jaar met ons wees. Daarom dat ons 2016 kan omhels. Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos mense sonder hoop nie. Alles en behalwe. Ons is u duurgekoopte eiendom. Tree vir tree loop ons saam met U, wat die Pad en die Eindbestemming is.
Dankie dat U ons hoop is!